Ma sê haar hele lewe het verander die dag wat sy vir Pa ontmoet het, sy het dit net nie dadelik besef nie. Sy vertel van hoe humeurig en bedonnerd sy altyd was; ek kan dit nie glo nie. Wanneer sy met Pa baklei huil sy altyd. Hy sit net daar – as hy praat is hy kalm – en wag vir haar om te bedaar.
In haar verhoudings voor sy Pa ontmoet het, het sy glo vreeslik geskree en gevloek, en tot ‘n ou te lyf gegaan omdat hy vir haar begin lag het terwyl sy met hom baklei het!Dis moeilik om te dink dat daar mens is wat bang was vir Ma, of veilig gevoel het as sy in hulle geselskap was. Natuurlik, toe ek klein was, was ek ook bang as ek stout was. Sy het my nooit geslaan sodat ek nie kan sit nie, maar ek sou vir lank na so ‘n geval onthou hoe skerp haar stem was, en die raps of twee wat sy oor my vet boude geplaas het.
Nou is ek bang omdat sy so weerloos geraak het. Pa slaan haar darem nie. Hy praat net nie met haar nie. In elk geval nie oor die goed wat ek dink sy wil oor praat, of ten minste hoor nie. Lank, lank gelede was Ma ‘n skrywer. Selfs na sy vir Pa ontmoet het, het sy geskryf. Partykeer goed wat kinders nie moet lees nie, ander kere sulke depressing gedigte. Meeste van die goed het nie op die oppervlak sin gemaak nie, maar na ek van dit ‘n paar keer oor gelees het, kan ek dink hoe sy moes voel. En toe hou sy op. Sy was moeg, uninspired en baie, baie lief vir ‘n man wat emosies vermy het. As ‘n tiener met draadjies en puisies en drome van om eendag mooi en verlief te wees, het ek telkens aan haar gekarring om my van hierdie man vir wie sy so lief was (en ek weet nog is) te vertel.
“Hy was lank, en alhoewel hy nie obviously aantreklik was nie, kon ‘n mens nie anders as om in sy geselskap te wou wees nie. Jy wou saam met hom gesien word omdat hy so ‘n wonderlike persoon is. Hy was saggeaard, snaaks en op die man af. Sy vingers was lank, sy oë vriendelik en sy glimlag aansteeklik. Ek het nie gedink ek sou ooit weer vir iemand voel wat ek vir hom gevoel het nie.”
Tog lyk dit of sy meer vir Pa voel as vir hierdie ou. “People change... Feelings too.”
Ek kon nog nooit uitvind wat verander het nie – behalwe die onderwerp elke keer as ek haar daaroor begin uitvra. Dis snaaks hoe goed Ma en Pa bymekaar pas, en tog wanneer sy so sty teen hom sit terwyl hulle TV kyk lyk hulle so odd. In die flikkerende lig van die skerm kyk sy glimlaggend, tevrede na hom terwyl hy, heeltemal oblivious van haar onverdeelde aandag op hom, die storie desperaat probeer volg. Sy wou nooit vir my sê waar of wanneer hulle ontmoet het nie. Partykeer as ek genoeg neul sal sy vir my van die gedigte wys wat sy vir hom geskryf het. My gunstelling:
Your tongue is like sunshine on my skin – I invite its company on any given day And entertain your fingers as long as you will stay.
Ek wens ek het geweet wat sy naam en nommer was, dan sou ek vir hulle ‘n blind date reël. Maar ek weet sys al nooit vir pa los nie. Dis nie asof sy nog nooit van tevore die geleentheid gehad het om haar goed te vat en te loop nie, of sy goed in die straat uit te gooi nie. Sy vra net elke keer om verskoning vir haar onredelike gedrag (al was dit nie haar skuld nie), en raak dan nog ‘n bietjie stiller, minder opstandig; meer weerloos. Hoe kan enige iemand so selfsugtig aangaan en nie besef hoeveel liefde daar vir hom is nie. Hoe kan enige man so blind wees om nie haar toegewydheid aan hom te kan sien en waardeer nie. Ek wonder baie oor hoe anders dit sou gewees het as Ma en Pa nooit bymekaar gekom het nie. Niks kon so erg gewees het om tussen haardie groot liefde van haar lewe te kom nie. Sy praat met soveel bewondering van hom. Hy klink na ‘n wonderlike man – die soort wat alle mans geheimsinnig bewonder en wil wees. Sy sê sy praat nog eke dag met hom. Ek kan nie dink wanneer nie. Sy is altyd besig om die huis netjie te hou, kos te maak, wasgoed te was, werk te soek. Sy’s altyd te besig om almal te please. “Waaroor praat julle?” “Hoe sy dag was, wat ek alles gemaak het, wat jy alles gemaak het…” “So hy weet van my?” “Natuurlik!” “Wat sê hy?” Sy glimlag. “Ag, jy weet mos jou pa sê nie veel nie."