Om sieldenke te deel met iemand wat jy skaars ken, is soms uiters verwarrend. Wat is 'n siel immers? Dit reduseer gedagtes bloot tot 'n abstrankte selfstandige naamwoord. Wat is 'n mens sonder 'n siel? Dat jy my sielemaat moet wees is 'n wens wat ek nie, al begeer ek dit met my hele wese, met my eie wil kan vervul nie. Is dit nog 'n mens? 'n Mens het nie genoeg perspektief van jou lewe nie - jy staan in die middel terwyl ander toekyk en sien, maar niks sê nie. Is dit net 'n dop? Party dinge is beter om net te los. Die stiltes tussen asemteue bly stil, roerloos, en geheime bly agter die geheue se grendels tussen ander opgehoopte drome en wense. Dit spook nie by jou nie; net by my. Wat is die doel van die siel? Jou siel is die spilpunt van my lewe. Die buitelyne van jou lyf is die wentlebaan van my siel, en tog... Hoe beskryf 'n mens die siel?
1998
Kommentaar: Die skrywer hanteer Afrikaans baie vaardig. Die onderwerp hier word filosofies behandel, maar bly binne die dinkraamwerk van 'n eeue-oue patroon, en klink na 'n goed voorbereide lesing uit gedokumenteerde bronne. Die Egiptenare het reeds met die siel (Ka) gestoei. Eers wanneer 'n mens die skuinsdruk as interliniêre glosse (want elke vraag is eintlik 'n stelling) begin vertolk, kom die verhaal binne die verhaal uit. Die verhaal staan halfpad tussen poësie en prosa (drama) en kan enige kant toe val by verdere hantering. Met 'n bietjie verdigting kan dit poësie word, of dit kan meer verteenwoordigende prosa (dalk drama) wees deur dit dialoog te maak.(Bron onbekend)